Back to All Events

ATKV Digskool


  • Rogge cloof Rogge cloof South Africa (map)

Kom dig dat die sterre spat!

 

Die Louwhuis en Museum Sutherland bied weer die jaarlikse  ATKV Digskool op 28 tot 30 Maart 2025 in die nuut gerestoureerde Louwhuis aan. Soos met die vorige digskole beloof dit om weer 'n besondere Roggeveldse ervaring te wees.


Die gesprekleiers gaan professore Bernard Odendaal en Heilna du Plooy wees. Albei is gerekende digters wat diep spore in die Afrikaanse letterkunde trap. Praatjies, gesprekke en replieke van hoogstaande gehalte kan dus verwag word. 

 

Elke kursusganger moet vooraf twee gedigte indien wat deur die aanbieders deurgewerk word vir kommentaar. Digters wat reeds gepubliseer het, asook digters wat hulle gedigte in die laai wegsteek, is welkom. Daar gaan gedig word dat die sterre spat!

 

Vanjaar gaan gaste almal tuis in die luukse privaat natuurreservaat, Rogge Cloof, waar jy as't ware aan die sterre raak. Dit is volgens seismograwe moontlik die stilste plek op aarde omdat daar geen seismologiese aktiwiteite gemeet kan word nie. Die reservaat is 30 000 ha groot met sowat 3 000 stuk kleinwild en bied tipiese wye Roggeveldse tonele met Salpeterkop (1850 m.) altyd op die horison - die laaste aktiewe vulkaan in Suider-Afrika. Dit is ook die tuiste van die hoogste wingerd in Suid-Afrika en 'n wynproe kan gereël word. Alle etes word deur die Rogge Cloof restourant verskaf en word in die deftige Rittersaal bedien. Op die Saterdagaand is daar 'n begeleide besoek aan die teleskope op die plaas.

 

Benewens die digskool word besoeke gereël na SALT, Suid-Afrika se grootste teleskoop, net buite die dorp. Die historiese NG Kerk word besoek vir 'n orreluitvoering op die manjefieke Schlagg-orrel. Op Sondagoggend word Gunsfontein besoek, direk langs Rogge Cloof  waar die digterbroers naweke en vakansies by hulle grootouers Van Wyk deurgebring het. Dit is altyd gewyde oomblikke om by die ou peerboom te staan waarop NP van Wyk Louw sy naam uitgekerf het en om op die ou werf, met die ou opstal, te dwaal waar hulle as kinders gespeel het. Een van die bes-bewaarde korbeelhuise staan ook daar by die plaasdam.

 

Die Louwhuis en Museum Sutherland beloof om aan die besoekende digters die geleentheid te bied om hulle digwerk te verfyn, maar bied ook die ruimte vir 'n volle inspirerende Roggeveldse ervaring. Dit gaan sterre, veld, berge, geskiedenis, digterspore en musiek wees. En die uitnemendste, om in die sfeer van die Louwbroers se geboortehuis met gedigte, gedagtes en woorde om te gaan.

 

Kontak Gerard Scholtz by admin@louwhuis.com vir volledige program en prys.

Previous
Previous
August 18

ATKV Digskool