Back to All Events

ATKV Digskool


Bernard Odendaal, digter en digkunskenner wat voorheen die direkteur van die ATKV- Skryfskool van die Noordwes-Universiteit (NWU) was, sal ʼn poësiewerkswinkel op die Roggeveldse Karooplaas, Klipkraal, buite Sutherland lei op Vrydagmiddag 18 Augustus en Saterdagoggend 19 Augustus 2023. Ook die bekroonde digter en rubriekskrywer Danie Marais sal by die werkswinkel aansluit om van sý sienings en wenke oor die digkuns met kursusgangers te deel.

As onderdeel van ʼn genotvolle naweek van kennismaking met die LH&MS en ander besienswaardighede in en rondom Sutherland, sal die poësiewerkswinkel tussen 17:00 en 20:00 op die Vrydag, en tussen 09:00 en 13:00 op die Saterdag plaasvind. Daarna word uitstappies na die Louwhuis; ‘n kort orreluitvoering op die NGK se manjifieke orrel; en sterrekyk by ‘n plaaslike observatorium vir diegene wat nog ‘n nag wil oorbly. Voornemende kursusgangers lê twee eie gedigskeppings voor by inskrywing vir die werkswinkel. Naas gesprekvoering oor die skeppingsmiddele tot ʼn digter se beskikking, sal praktiese toepaslikmaking daarvan in die digwerk van ingeskrewenes aan die beurt kom. Die grootwordkontrei van die Afrikaanse digterbroers N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw dien as inspirerende ruimte waarbinne die werkswinkel plaasvind.

Die ATKV-Skryfskool tree as vennoot van die LH&MS op in die aanbied daarvan. Reeds meer as 30 jaar lank staan die ATKV-Skryfskool met sy kortkursusse opkomende skrywers en digters by om ’n eie koers in te slaan binne die Afrikaanse skryfwêreld. Na berekening het meer as 6 000 publikasies deur oud-kursusgangers van die Skryfskool reeds die lig gesien.

Next
Next
March 28

ATKV Digskool